WEES GEREED!
Aan die einde van die tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met 'n bruilof waar tien meisies die bruidegom gaan verwelkom. Al tien het die bruidegom gaan inwag, vyf was onvoorbereid en vyf voorbereid.
Die wat onvoorbereid was het hulle lampe saamgevat, maar nie ekstra olie nie. Die wat voorbereid was het ekstra olie saamgevat.
Die bruidegom het getalm om te kom sodat hulle almal naderhand vaak geword en aan die slaap geraak het.
Om middernag het iemand geroep: "Daar kom die bruidegom! Kom ons gaan groet hom!" Toe word al die meisies wakker en maak hulle lampe gereed.
Die wat onvoorbereid was vra toe die ander: "Gee asseblief vir ons van julle olie. Ons lampe is besig om dood te gaan."
Maar die voorbereides sê: "Ons kan nie. Ons het dalk nie genoeg vir julle én vir ons nie. Gaan koop gerus vir julle by die winkel op die hoek."
Terwyl hulle oppad was winkel toe, het die bruidegom gekom. Die wat genoeg olie gehad het, het saam met hom bruilof toe gegaan, en die deur is agter hulle gesluit.
Later, toe die ander meisies terugkom, het hulle geklop en gesê: "Maak asseblief vir ons oop!" Maar die bruidegom het geantwoord: "Ek ken julle glad nie!"
Wees dan altyd voorbereid met ekstra olie vir julle lampe, want julle weet nie watter dag of uur Christus kom nie!
WEES GETROU
Aan die einde van die wêreld sal dit ook gaan soos die man wat op reis wou gaan en sy werknemers geroep het om van sy beleggings in hulle sorg te plaas.
Aan die een het hy R5 miljoen gegee, aan die ander een R2 miljoen en aan die derde R1 miljoen. Hy het dit aan hulle gegee soos wat elkeen die vermoë gehad het om daana om te sien. Hy het toe dadelik vertrek.
Die een wat R5 miljoen ontvang het, het daarmee gewoeker en dit in waarde verdubbel. So ook het die een wat R2 miljoen ontvang het, dit verdubbel. Maar die een wat R1 miljoen ontvang het, het dit in 'n kluis toegesluit.
Na 'n lang tyd het die werkgewer teruggekom en hulle geroep om rekenskap te gee van wat hulle gedoen het.
Die een wat die R5 miljoen ontvang het, kom en bring dit wat hy verdubbel het en sê: "Meneer, u het R5 miljoen aan my toevertrou. Ek het vir u nog R5 miljoen daarby verdien. Die eienaar sê vir hom: "Jy het goed gedoen, goeie en getroue werknemer. Dit was maar min waaroor jy getrou was. Jy sal oor baie meer aangestel word. Jy het my baie vreugde besorg.
Die een wat die R2 miljoen ontvang het, kom en bring dit wat hy verdubbel het en sê: "Meneer, u het R2 miljoen aan my toevertrou. Ek het vir u nog R2 miljoen daarby verdien. Die eienaar sê vir hom: "Jy het goed gedoen, goeie en getroue werknemer. Dit was maar min waaroor jy getrou was. Jy sal oor baie meer aangestel word. Jy het my baie vreugde besorg.
Die een wat R1 miljoen ontvang het, kom ook en sê: "Meneer, ek ken u, dat u 'n harde man is wat oes waar u nie gesaai het nie en bymekaar maak waarvoor u nie gewerk het nie. Ek was bang vir u, daarom het ek u belegging veilig opgepas. Hier is dit wat aan u behoort.
Maar sy werkgewer het hom geantwoord: "Jy is sleg en lui. Jy weet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie en bymekaar maak waarvoor ek nie gewerk het nie. Jy moes my geld in 'n bank belê het, dan sou ek darem rente daarop verdien het."
Vat my geld by hom weg en gee dit vir dié een wat R10 miljoen het.
Want aan elkeen wat aan My getrou is, sal nog meer gegee word en hy sal oorvloed hê. Maar hy wat ontrou is, van hom sal weggevat word alles wat hy het.
Vat die nuttelose werknemer en gooi hom in die buitenste duisternis van die hel. Mense wat nie gereed is vir My koms nie, sal huil van selfverwyt en van woede op hulle tande kners.
DIE WEDERKOMS
Wanneer die Christus in sy menslike gestalte kom, sal Hy met koninklike glans kom en al sy engele saam met Hom.
Dan sal Hy op sy glinsterende troon sit en al die verskillende nasies voor Hom bymekaar laat kom.
Hy sal soos 'n herder die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterhand bymekaar laat kom en die bokke aan sy linkerkant.
Dan sal die Koning vir die aan sy regterhand sê: "Julle is die wat my Vader geseën het. Kom en ontvang die koninkryk wat Hy vir julle van die skepping af gereed gemaak het.
Want Ek het honger gehad, en julle het My iets gegee om te eet. Ek het dors gehad, en julle het My iets gegee om te drink. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My huisvesting gegee. Ek was naak, en julle het My klere gegee. Ek was siek, en julle het My versorg. In die tronk, en julle het My besoek.”
Dan sal die wat deur God as sy eie aanvaar is, Hom antwoord: "Majesteit, wanneer het ons U honger gesien en iets gegee om te eet? Of dors, en iets gegee om te drink? En wanneer was U 'n vreemdeling dat ons U huisvesting gegee het? Of naak, en klere gegee? En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U besoek?”
Die Koning sal vir hulle sê: "Dit verseker Ek julle, vir sover julle dit gedoen het vir een van die eenvoudigstes van my broers, het julle dit vir My gedoen.”
Dan sal Hy vir dié aan sy linkerkant sê: "Gaan weg van My af! Julle is vervloek en bestem vir die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy engele.”
“Want Ek het honger gehad, en julle het My nie iets gegee om te eet nie. Ek het dors gehad, en julle het My nie iets gegee om te drink nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie huisvesting gegee nie. Naak, en julle het My nie klere gegee nie. Siek, en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.”
Dan sal hulle Hom antwoord: "Majesteit, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die tronk, en nie iets vir U gedoen nie?"
Dan sal Hy vir hulle sê: "Vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie eenvoudiges nie, het julle dit sekerlik ook nie aan My gedoen nie.
Hulle sal vir altyd gestraf word, maar die wat deur God as sy eie aanvaar is, sal vir altyd lewe.
Mattheus 25:1-46