Die Brief aan die Hebreërs
Hoofstuk 13
SLOTGEDAGTES
As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie ophou om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste gehuisves.
Dink aan die wat in die tronk is asof julle self ook in die tronk is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.
Hou die huwelik ’n instelling waarop almal trots kan wees. Wees as getroudes getrou aan mekaar, want God sal dié wat in seksuele losbandigheid en buite-egtelike verhoudings lewe, oordeel.
Moenie enige vorm van geldgierigheid in julle lewens toelaat nie. Wees tevrede met wat julle het. God het self gesê:
“Ek sal altyd by jou wees, jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here help my, ek is vir niemand bang nie. Wat kan 'n mens aan my doen?”
Onthou diegene wat God se boodskap aan julle gebring het. Onthou die voorbeeld wat hulle gestel het - hoe hulle hulle lewe lank op Jesus vertrou het. Julle kan net soos hulle ook op Jesus vertrou, want Hy is gister en vandag en vir altyd dieselfde.
Moenie agter allerhande vreemde leringe aanloop nie. Wat waarde het, is dat jou innerlike mens deur God se onvoorwaardelike liefde versterk word, nie deur wat jy eet nie. Dié vir wie eetgewoontes belangrik is, het niks daarby gebaat nie.
LY SAAM MET HOM
Ons het ‘n offerplek waarvan dié wat nog offers bring volgens die ou wettiese orde, nie deel mag kry nie. In die ou priesterorde is die bloed van die offerdiere deur die hoëpriester in die tempel ingebring om vir die sonde te betaal, maar hulle liggame is buitekant die stad verbrand. Daarom het Jesus ook buitekant die stad gely om die volk se sonde deur sy eie bloed weg te vat.
Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die stad en die spot dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste blyplek nie. Ons is oppad na ‘n toekomstige stad.
Kom ons bring dan aan God ‘n lofoffer. Kom ons prys Hom sonder ophou met monde wat sy naam hardop bely. Kom ons doen dit deur Jesus wat in ons bly.
Doen goed aan ander en gee aan hulle as hulle iets nodig het. As julle hoegenaamd offers wil bring, is dit die offers wat vir God aanvaarbaar is.
Julle leiers moet toesig hou oor hoe julle lewe. God sal van hulle verantwoording eis. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle. Dan sal dit vir hulle maklik wees om hulle werk te doen en sal hulle nie daaroor kla nie. Dit is tot julle voordeel dat hulle hulle werk goed doen.
Hou aan om vir ons te bid. Ons is oortuig dat ons niks het om oor skuldig te wees nie omdat ons altyd probeer doen wat reg is. ‘n Spesiale gebedsversoek - vra dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.
God wat vrede gee, het ons Here Jesus uit die dood teruggebring. Jesus is deur die bloed van die nuwe ooreenkoms, wat vir altyd geldig is, die opperherder van sy kudde.Dit is ons gebed dat God deur Jesus Christus wat in ons bly, dit sal doen wat vir Hom aanvaarbaar is. Aan Hom behoort die koninklike glans vir alle tye! Mag dit só wees.
Broers, ek versoek julle dringend om geduldig na my te luister. Ek het net 'n kort briefie aan julle geskryf, en dit was om julle moed in te praat. Julle het seker gehoor dat ons broer Timoteus uit die tronk vrygelaat is. As hy betyds kom, bring ek hom saam na julle toe. Ons stuur groete aan julle almal, die leiers en die gelowiges. Die gelowiges van Italië stuur vir julle ook groete. Die onvoorwaardelike liefde van God sal by julle almal wees!