Openbaring 12-14:5
Hoofstuk 12
DIE VROU EN DIE DRAAK
In die hemel het 'n indrukwekkende beeld verskyn - 'n vrou wat lyk asof sy die son as 'n jas aan het. Die maan was onder haar voete en op haar kop was 'n kroon met twaalf sterre. Sy was die kroon van God se skepping en 'n beeld van God se volk. Sy was swanger en het geskreeu van die pyn, want sy was op die punt om geboorte te gee.
Daar het nog 'n beeld in die hemel verskyn - 'n groot vuurrooi draak. Die draak was baie sterk met tien horings en sewe koppe met heerserskrone. Hy het geheers deur al die aardse regeerders van alle tye. Hy het 'n derde van die engele in die hemel gedwonge met hom saamgevat aarde toe.
Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om geboorte te gee. Hy wou haar kind doodmaak sodra hy gebore is. Sy het aan 'n kind geboorte gegee, 'n Seun, wat bestem is om al die nasies met 'n streng hand te regeer.
Haar kind is egter weggeruk na God en sy troon toe en die vrou het na 'n veilige plek in die woestyn gevlug waar God vir haar plek gereed gemaak het. Daar het die mense haar drie en 'n half jaar lank, 'n vasgestelde tyd, versorg.
Daar het toe oorlog gekom in die geesteshemel. Michael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak. Die groot draak, die slang wat in die paradys was, wat die duiwel en die Satan genoem word en die hele wêreld verlei, het saam met sy engele geveg, maar hulle het die geveg verloor en is uit die hemel na die aarde toe verban.
Toe het 'n harde stem in die hemel geroep: "Die verlossing wat ons God vir ons bewerk het, het aangebreek! Die dag van sy magtige koningskap en die gesag van sy Gesalfde, die Christus, het aangebreek. Die duiwel wat ons medegelowiges dag en nag by God aangekla het, kan dit nie meer doen nie. Hy is uit die hemel verban."
"Ons medegelowiges het self die duiwel oorwin deur die bloed van die Lam wat hulle sondes weggevat het, die boodskap van redding waarvan hulle vertel het, en omdat hulle bereid was om vir die Lam te sterf."
"Daarom, hemel en dié wat alreeds daarin bly, wees bly omdat die Satan nie meer in die hemel kan kom nie. Maar vir julle wat op die aarde bly, wag daar groot ellende, want die duiwel kom na julle toe met groot woede en omdat hy weet dat sy tyd min is."
Toe die draak sien dat hy na die aarde verban is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. Maar God het aan die vrou twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na 'n veilige plek in die woestyn kon vlug. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg.
Die slang het toe 'n stroom water soos 'n rivier uit sy bek agter die vrou aan gespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, maar die aarde, die meer stabiele volke, het gekom en die vrou gehelp. Die aarde het oopgegaan en die stroom ingesluk wat die draak uit sy bek gespoeg het.
Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nageslag wat gedoen het wat God wil hê, dié wat in Jesus bly glo het.
Die draak het toe op die seestrand gaan staan en uitgekyk na die volkere see.
Hoofstuk 13
DIE DIERLIKE WESE UIT DIE SEE
Uit die rustelose volkere see het ek 'n gewetenlose wese sien kom wat soos 'n dier gelyk het. Hy het tien horings met krone op gehad en sewe koppe. Hy was baie sterk en het deur die heersers van aarde geheers. Hy het leuens oor God vertel en Hom gespot.
Die wese wat ek gesien het, was so vinnig soos 'n luiperd, so sterk soos 'n beer en so gevaarlik soos 'n leeu. Die Satan het sy mag, sy hele koninkryk en sy gesag aan hom gegee om namens hom te regeer. Dit het gelyk of hy sou doodgaan omdat een van sy heersers dodelik gewond is. Die wond het egter genees en die hele wêreld het hulle aan die wese verwonder en agter hom aangeloop.
Die mense het die Satan aanbid omdat hy aan die wese gesag gegee het. Hulle het ook die wese aanbid en gesê: "Niks kan met hom vergelyk word nie. Niemand kan teen hom staande bly nie."
God het die wese toegelaat om verskriklike dinge te sê en leuens oor Hom te vertel. Hy het hom beperk om vir net twee-en-veertig maande lank, 'n vasgestelde tyd, te regeer. In dié tyd het hy met God die spot begin dryf. Hy het met God, sy woonplek en dié wat in die hemel bly, gespot. Aan hom is ook mag gegee om die wat in Christus glo te vervolg en dood te maak. Hy het gesag ontvang om oor al die nasies, oor elke volk en stam en taal, te regeer.
Die hele wêreldbevolking sal die dierlike wese aanbid, almal behalwe die wie se name alreeds met die skepping van die wêreld in die boek van die lewe geskryf is. Dit is die Lam se boek waarin die name geskryf is van die wat vir altyd sal lewe.
As iemand bestem is om in gevangenskap te gaan, sal dit met hom gebeur. As iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word, sal hy met 'n swaard doodgemaak word.
Al wat die gelowiges in hierdie tye staande sal hou is om aan te hou om God te vertrou.
DIE DIERLIKE WESE UIT DIE AARDE
Ek het nog 'n gewetenlose wese gesien. Hy het ook soos 'n dier gelyk, maar het uit aarde, die meer stabiele volke, gekom. Hy was nie so sterk soos die eerste een nie, hy het net twee horings gehad, soos 'n lam s'n. Hy het onskuldig voorgekom, maar wat hy gesê het, het van die duiwel gekom.
Hy oefen al die gesag van die eerste wese namens hom uit. Hy maak dat almal op die aarde die eerste wese aanbid, dié een waarvan een van sy heersers se dodelike wond genees is.
Die tweede wese doen groot tekens sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat val vir die mense om te sien. Aan hom is mag gegee om wondertekens namens die eerste wese en sy heersers te doen. Deur hierdie tekens het hy die mense op die aarde mislei om hom te volg.
Hy beveel ook die bewoners van die aarde om 'n beeld te maak vir die eerste dierlike wese wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. Hy kon ook lewe gee aan die eerste wese se beeld sodat die beeld kan praat. Hy het gesag gehad om almal dood te maak wat nie die beeld aanbid nie.
Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, werkgewers en werknemers, om 'n sigbare identiteitsmerk op hulle regterhand of voorkop te dra. Hy laat niemand toe om handel te dryf nie, behalwe die mense wat die sigbare merk het en soos die wese dink en doen.
Die identiteitsmerk is die naam van die gewetenlose wese. Sy naam kan as 'n getal geskryf word. Hier is wysheid nodig. Wie slim is, kan die getal van die wese ontsyfer, want dit is 'n menslike getal. Sy getal is 666. In die Hebreeuse alfabet is die sesde letter die letter w.
Hoofstuk 14
'N NUWE LIED
Toe het ek die Lam op God se berg sien staan en honderd-vier-en-veertig-duisend mense by Hom. Hulle was almal wat deur Hom gered is. Soos met die volgelinge van die gewetenlose wese, kon almal duidelik sien dat hulle aan die Lam en sy Vader behoort. Op hulle voorkoppe was sy naam en sy Vader se naam geskryf.
En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor wat so indrukwekkend soos die gedruis van baie water en so hard soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Dit het geklink soos 'n massakoor wat op hulle siters speel.
Die koor sing 'n nuwe lied voor die troon, die vier lewende wesens, wat God se skepping verteenwoordig, en die oudstes wat sy volk by Hom verteenwoordig. Net die honderd-vier-en-veertig-
Dit is hulle wat nie aan God ontrou geword het nie, maar aan Hom getrou gebly het. Hulle is altyd by die Lam, waar Hy ookal gaan. Hulle is die eerste mense wat vir God en die Lam losgekoop en gered is. Hulle het nooit daaroor gelieg dat hulle aan God behoort nie. Hulle is sonder fout.