1 min gelees

Openbaring 19

OORWINNING

Hierna het ek harde geluide gehoor. Dit was 'n massakoor in die hemel wat uitgeroep het: "Loof die Here! Die verlossing, die koninklike glans, die eer en die krag behoort aan die Here. Hy is ons God! Sy oordeel is waar en reg. Hy het die groot prostituut, die wêreld se magsentrum, veroordeel omdat sy die mense op aarde met haar verleidelikheid besoedel het. Hy het haar gestraf omdat sy sy diensknegte doodgemaak het.”

Die massakoor het dit herhaal: "Loof die Here! Sy sal vir altyd brand!" Die vier-en-twintig verteenwoordigers van God se volk en die van sy skepping, die vier lewende wesens, het voor die troon neergeval en God aanbid wat daarop sit. Hulle het gesê: "Dit is so en dit sal altyd so wees. Loof die Here!"

'n Stem het van die troon af gesê: "Loof ons God, almal wat Hom dien en eer, die kinders en die groot mense!"

Ek het weer die massakoor gehoor. Dit het geklink soos die dreuning van baie watervalle met harde donderslae tussen-in. Hulle het gesê: "Loof die Here! Die Here God, die Al-magtige, is nou die Koning! Laat ons bly wees en borrel van vreugde! Laat ons sy koninklike glans erken! Want die bruilof van die Lam het gekom en sy bruid is gereed!" Aan haar is 'n bruidsrok van skoon, blink, fyn linne gegee. Haar rok is gemaak van alles wat die wie se sondes vergewe is, reg gedoen het."

Hy sê toe vir my: "Skryf dit neer. Hoe gelukkig is dié wat genooi is na die bruilof van die Lam!" Hy sê toe verder: "Dit is die waarheid uit God se eie mond."

Ek het voor hom neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: "Moenie! Ek is maar net 'n medewerker van jou en jou broers wat die mense van Jesus vertel. Jy moet God alleen aanbid. Hy gee aan dié mense wat ander van Jesus vertel, die woorde wat hulle moet sê."

Ek het gesien dat die hemel oop is. Daar was 'n wit perd. Sy ruiter se name is "Getrou" en "Waar". Hy oordeel en maak oorlog om regverdige straf uit te deel. Sy oë, wat alles sien, was soos vuurvlamme. Op sy kop het baie krone sy absolute heerskappy uitgebeeld. Hy het 'n geskrewe naam wat niemand behalwe Hyself ken nie. Dit is die deel van sy persoon wat ons nooit sal ken nie.

Sy uniform het gewys dat Hy gesterf het, want dit was deurdrenk met bloed. Sy naam is "Die Woord van God". 'n Leërmag hemelse soldate het hom gevolg op wit perde. Hulle het wit, skoon uniforms van fyn linne aangehad.

Uit sy mond gaan 'n swaard met skerp oordeelswoorde waarmee Hy die heidennasies straf. Hy sal hulle met 'n streng hand regeer en die oordele en strawwe van God die Al-magtige se woede en toorn oor hulle uitoefen. Op sy uniform, hier by sy heup, is sy titel: "Die Opperste Koning en Opperste Bevelvoerder".

Ek het 'n engel gesien wat in die son staan. Hy het met 'n harde stem al die voëls geroep: "Kom hier bymekaar. Die grote God nooi julle vir 'n maaltyd. Julle sal die liggame van die aardse regeerders, die weermag offisiere en die sterk soldate in hulle pantserkarre kry om te eet. Ja, die liggame van alle mense, werkgewers en werknemers, jonk en oud."

Ek het die gewetenlose wese gesien wat saam met die regeerders van die aarde en hulle soldate bymekaar gekom het om oorlog te maak teen Hom wat op sy perd sit en teen sy leër.

Die gewetenlose dierlike wese en die valse profeet, wat valslik voorgegee het om God se boodskapper te wees, is gevang. Die valse profeet is die een wat voor die wese tekens gedoen het waardeur hy die mense mislei het om die identiteitsmerk van die wese te kry en sy beeld te aanbid. Die twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met giftige swaeldampe aanhou brand.

Die regeerders en hulle leërs is doodgemaak deur die swaard van die Ruiter op die wit perd, bloot deur dit wat Hy vir hulle gesê het. Al die voëls het genoeg gekry om te eet.

KLIEK HIER VIR 'N KOPIE