1 min gelees

Brief aan die Christene in Rome

Romeine 14


Aanvaar dié wie se geloof swak is. Moenie oor sy oortuigings oordeel nie.

Party glo dat 'n mens alles mag eet. Maar ander, wie se geloof swak is, glo dat 'n mens net groente mag eet.

Die een wat glo dat hy alles mag eet, moenie dink hy is beter as dié een wat net groente eet nie. Net so moet dié een wat net groente eet, nie die ander een oordeel nie, want God het hulle altwee aanvaar.

Jy het nie die reg om 'n ander persoon se slaaf te oordeel nie. Hy behoort aan sy eienaar. Sy eienaar sal hom beoordeel. Net so behoort julle aan die Here en dit is Hy wat julle elkeen afsonderlik sal beoordeel.

Vir die een persoon is een dag belangriker as die ander dae. Vir 'n ander is al die dae ewe belangrik. Laat elkeen ten volle oortuig wees van dit wat vir hom belangrik is. Die een wat 'n dag vier, doen dit tot eer van die Here. En die wat dit nie vier nie, doen dit ook tot eer van die Here.

Die een wat sekere voedsel eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God vir sy kos. Hy wat dit nie eet nie, doen ook dit tot die eer van die Here, want hy dank God dat hy dit nie hoef te eet nie.

Niemand van ons leef vir homself nie en niemand van ons sterf vir homself nie. Solank ons lewe, leef ons tot eer van die Here. En wanneer ons sterf, sterf ons tot eer van die Here.

Of ons lewe en of ons sterf, ons behoort aan die Here. Dit is die rede waarom Christus gesterf en uit die dood opgestaan het en weer lewend geword het - om oor die lewendes en oor die dooies seggenskap te hê.

Jy dan, hoekom oordeel jy jou broer? Of jy, hoekom kyk jy neer op jou broer? Ons sal almal langs mekaar voor Christus se regtersbank staan. So is daar geskryf: "Ek neem 'n eed by Myself, sê die Here, voor My sal elke mens kniel en elkeen sal erken dat Ek God is." So sal elkeen net vir homself aan God verantwoording doen.

Laat ons dan mekaar nie langer oordeel nie. Inteendeel, besluit liewers om dit nie moeiliker te maak vir jou broer nie.

Ek weet verseker dat Christus niks op sy eie as onrein ag nie. Maar as jy dink iets is onrein, dan is dit vir jou onrein.

As jy iets eet wat jou broer as onrein beskou, al dink jy dit is rein, los dit liewer. Dit is wat dit beteken om lief te hê. Moenie dat jou broer begin twyfel deur dit wat jy eet nie. Christus het immers vir hom gesterf.


Laat mense liewer van julle goeie optrede teenoor mekaar praat as dat hulle van julle kwaad praat. God se koningskap hou hom nie besig met kos en drank nie, maar dat mense doen wat reg is, in vrede met mekaar lewe en deur die Heilige Gees vol blydskap gemaak word. Elkeen wat Christus hierin navolg, stel God tevrede en is in aansien by die mense.

Ons moet ons besig hou met alles wat die vrede onder mekaar bewaar en dit wat mekaar opbou. Moenie dat die kos wat jy eet, God se werk in jou broer afbreek nie. 'n Mens kan alles eet, maar nié as jou broer dink dit is verkeerd nie. Eet eerder niks vleis en drink niks wyn nie as wat dit jou broer ongelukkig maak of laat twyfel omdat hy nog swak is in sy geloof.

Is jou geloof sterk? Sê vir God dankie daarvoor! Gelukkig is jy as jou geloof sterk genoeg is sodat jy alles kan eet.

Maar as jy twyfel of jy iets mag eet, is dit jou twyfel wat jou laat sonde doen en nie dit wat jy eet nie.

Alles wat 'n mens sonder geloof doen, is sonde.


LAAI HIER 'N KOPIE AF

Kommentaar
* Die e-pos sal nie op die webwerf gepubliseer word nie.